24/08/2026
Beste Pasiënte
Soos die weer warmer raak en ons die nuwe seisoen begin verwelkom, wil ons graag by julle inloer en julle herinner aan die belangrikheid van goeie mondgesondheid. 🦷🤍
Indien jy nog nie vanjaar by ons ’n draai gemaak het nie, wil ons jou graag aanmoedig om jou gereelde ondersoek en tandheelkundige skoonmaak te bespreek. Voorkoming is altyd beter as genesing, en ’n gereelde ondersoek help ons om enige probleme vroegtydig te identifiseer en aan te spreek.
Ons boeke raak gewoonlik al hoe besiger soos ons die laaste kwartaal van die jaar nader. Om die jaareindjaag en moontlike teleurstelling met afsprake te vermy, bespreek jou afspraak vroegtydig. Só kan ons seker maak daar is genoeg tyd om enige behandeling wat jy graag vanjaar wil voltooi, rustig en deeglik af te handel.
Indien jy ons nog nie vanjaar besoek het nie, wil ons ook graag van die geleentheid gebruik maak om julle aan Dr. Carmen Vorster bekend te stel. 🤍
Meer oor Dr. Carmen Vorster
Dr. Carmen en Dr. Esther het saam aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en in 2018 gegradueer. Ná haar gemeenskapsdiensjaar in 2019 het Dr. Carmen van 2020 tot 2024 by Southdowns in Centurion gewerk, waar sy haar vaardighede en passie vir algemene tandheelkunde en estetiese werk verder ontwikkel het.
Ná haar huwelik met een van ons plaaslike boere het Dr. Carmen en haar man vir ’n jaar in Switserland gewoon. Gedurende hierdie tyd het sy die besondere geleentheid gehad om saam met ’n periodontis te werk, waar sy waardevolle kennis en ervaring opgedoen het.
In April vanjaar het Dr. Carmen by Dr. Esther se praktyk aangesluit, en ons is ongelooflik dankbaar om haar deel van ons span te hê. Die praktyk groei steeds van krag tot krag, en Dr. Carmen se uitstekende kliniese vaardighede, sagte benadering en sprankelende persoonlikheid maak haar ’n besonderse aanwins vir ons span.
Ons sien uit daarna om julle in die praktyk te verwelkom! 🤍🦷
Dr. Esther & Dr. Carmen
en die hele span