17/12/2023
Na 'n leeftyd van werk as 'n tandarts is dit vir my 'n al hoe groter frustrasie as pasiënte tande verloor. Lees asseblief hier om uit te vind hoe om na jou tandvleis om te sien. Daar is 25 beelde wat die teks verduidelik. Ongelukkig bied Facebook nie 'n opsie om beelde inlyn te plaas nie.
EK EN MY TANDVLEIS
Tandvleissiekte is die mees algemene siekte in die wereld, meer algemeen as verkoue. Die uiteindelike gevolg van tandvleissiekte is die totale verlies van al die tande. Tandvleissiekte word al hoe meer in verband gebring met hartsiektes soos hartaanvalle.
Gelukkig is dit moontlik om tandvleissiekte te behandel en te voorkom, maar dit moet vroegtydig aandag kry.
Hoe lyk normale gesonde tandvleis?
Figuur 1:
Met die blote oog is dit duidelik dat daar twee soorte tandvleis in die mond teenwoordig is, die een ligpienk van kleur en die ander helderrooi. Die ligpienk tandvleis bedek die tandnekke. ‘n Entjie verder van die tand se kroon verander die ligpienk tandvleis in die rooi tandvleis. Die ligpienk tandvleis se kleur is te danke aan ‘n bedekkende lagie keratien, die horingagtige weefsel waaruit ons naels en hare bestaan. Daarom noem ons die ligpienk tandvleis, gekeratiniseerde tandvleis. Die gekeratiniseerde tandvleis is aangeheg aan die been van die tandkas en staan ook bekend as aangehegte tandvleis.
Die aangehegte of gekeratiniseerde tandvleis doen dieselfde werk as naels of hare - dit BESKERM. Dit beskerm die been, die tandkas en die ligament wat die tand en die been verbind.
Die hele verhemelte bestaan uit gekeratiniseerde tandvleis. Dit is net logies en moet ook so wees want die hele verhemelte is mos baie blootgestel aan die tong, kos, drank en vreemde voorwerpe. Die rooi tandvleis is ongekeratiniseerd, vry en bied weinig beskerming.
Figuur 2:
Die aangehegte tandvleis eindig nie stomp teen die tand nie maar vorm ’n gleuf, wat bekend staan as die sulcus. Ongelukkig is die binnekant van die sulcus nie uitgevoer met keratien nie.
DIE SULCUS IS DUS BAIE KWESBAAR.
Die normale diepte van die sulcus is tussen 1 en 3 mm en dit word gemeet met ’n periodontale sonde.
Daar is ’n konstante verhouding tussen die tandvleis, die aanhegting tussen die tandvleis en tand en die been van die tandkas.
Figuur 3:
Figuur 4:
TANDVLEISSIEKTE
Tandvleissiekte word veroorsaak deur:
Plaak en Tandsteen.
Onnatuurlike koukragte.
Rook
Siektes
Voedingsgebreke
Medisyne
Verkeerde tandeborselmetodes
Verkeerde stopsels
Spanning
Genetiese faktore
SLS en Droë mondsindroom
PLAAK
Dit is ’n taai, suur wit klewerige stof wat deur bakterieë geproduseer word uit kos, speeksel en ons liggaamselle. Plaak veroorsaak ook tandverrotting en is onwelriekend. Dit neem net 24 uur vir plaak om weer te vorm nadat dit verwyder is.
Figuur 5:
Figuur 6:
In die sulcus vermeerder die plaak en kan dit selfs versteen, Dan noem ons dit tandsteen of kalkulus. Die kalkulus is baie hard en ruik ook onaangenaam.
2. ONNATUURLIKE KOUKRAGTE
Enige afwyking in die rangskikking en verhouding van die tande tot mekaar veroorsaak dat die kragte in die verkeerde rigting en oneweredig uitgeoefen word.
Voorbeeld 1: Die oogtand is die langste en sterkste tand in die mond en is gevolglik eintlik die enigste tand wat kwaai heen-en-weer (laterale) kragte kan hanteer. In die normale kouproses gebeur werk dit so dat die oogtande as’t ware al die ander tande ontsluit.
Figuur 7:
Indien die oogtand verkeerd kontak maak of dalk glad nie, dan word die heen-en-weer kragte op ander tande, wat nie so sterk is nie, uitgeoefen. Dié tande word dan “losgewikkel” deurdat hulle tandvleis terugtrek.
Voorbeeld 2: ’n Stopsel of ’n kroon wat hoër as die ander tande is dra meer gewig en die tandvleis, been en ligament gee uiteindelik mee.
Voorbeeld 3: Baie mense is geneig om, veral snags, hulle tande te klem of te kners. Net soos ’n mens nie gemaak is om op sy hande te loop nie, net so min kan die tande en tandvleis dit hou as daar nag vir nag sulke buitensporige kragte op hulle uitgeoefen word
3.ROOK
Rook is direk en indirek toksies op alle liggaamsweefsels. Die mond en tandvleis word direk en baie erg deur rook aangetas.
4. SIEKTES
Siektes, bv. diabetes, kanker en immuunsiektes. Mense met siektes wat hulle immuniteit beïnvloed se tandvleis is baie meer kwesbaar.
5. VOEDINGSGEBREKE
Voedingsgebreke, bv. vitamiengebreke, anorexia nervosa en bulimie. Interessant genoeg word skeurbuik gekenmerk deur bloeiende tandvleis en dit was een van die redes vir die oprigting van ’n verversingstasie aan die Kaap in 1652.
6. MEDISYNE
Newe effekte van sekere medisyne. Sekere soorte medisyne onderdruk immuniteit en ander droog die mondslymvlies uit. (Sien onder)
7. VERKEERDE TANDEBORSELMETODES
Oorywerige of aggressiewe tandeborselmetodes. Dit is moontlik om oor ’n tydperk van jare of maande die tandvleis weg te borsel.
8. VERKEERDE STOPSELS
Growwe of swak passende stopsels. Growwe stopsels is die ideale vashouplek vir plaak en bakterieë. Daar kan die tandeborsel of vlos dit nie bykom nie. Alle stopsels en krone moet perfek pas.
9. SPANNING
Ongesonde stres droog die mond uit en belemmer genesing.
10. GENETIESE FAKTORE
Dit is ’n feit dat party mense meer geneig is tot tandvleissiekte as ander. Dit is met ander woorde oorerflik.
11. SLS EN DROë MONDSINDROOM
SLS is die afkorting vir “sodium lauryl suplhate” oftewel natriumlourielsulfaat. Dit is ’n produk wat in seep en reinigingsmiddels gebruik word om skuim te maak. Ongelukkig word dit ook in baie soorte tandepasta gebruik, vir dieselfde rede. Dit is ’n toksiese produk. Daarom kan honde nie met sjampoe vir menslike gebruik gewas word nie. Hulle kry erge emfiseem as gevolg van SLS. Maar dit word in tandepasta gebruik! Dit is eintlik ondenkbaar.
Droë mond sindroom is 'n gebrek aan speeksel, met ander woorde 'n droë mond. Speeksel bevat anti-liggame, veral IgG en tree dus op as anti-infektiewe middel. Dit beskerm op hierdie manier direk teen tandkaries en tandvleissiektes. Speeksel is ook 'n smeermiddel, soos olie of ghries, wat die skuur en gly van kos en die verskillende weefsels,wange, lippe, tong en verhemelte oor en verby mekaar vergemaklik. As jy te min speeksel het skuur jy later die oppervlakkige lae epiteel letterlik stukkend. Natuurlik is dit pynlik en ongemaklik. Hierdie einste epiteel beskerm juis teen infeksie. As dit beskadig is kan jy 'n infeksie kry. Derdens is speeksel 'n wasmiddel of reinigingsmiddel. Dit is soos water. As jou kar vuil is, gooi of spuit jy water daaroor en die gemors kom af. Met gebrekkige volume speeksel vind ons dat die kos, drank en afgeskraapte epiteelselle nie so deeglik afgespoel word nie. Nou kry ons meer aanpaksels op die tande en onder die tandvleis. Dit dra ook by tot infeksies.
Oorsake van droë mond:
Op die keper beskou is die oorsake van droë mond amper dieselfde as die oorsake van tandvleisontsteking, maar daar is tog ’n aantal unieke faktore wat spesiale oorweging verg:
1. Spanning is 'n groot oorsaak van droë mond. As ons skrik ervaar ons skielik 'n droë mond. Dit is akute spanning. Netso veroorsaak chroniese spanning en stress 'n verlaagde vloei van speeksel.
2. Ouderdom veroorsaak dat die speekselkliere minder effektief raak, soos 'n hele paar ander kliere ook!
3. Medikasie. Daar is meer as 400 geneesmiddels wat die newe-effek van xerostomie (droë mond) tot gevolg het. Die statiene, bloeddrukmedikasie, anti-depressante, voorbehoedmiddels, anti-inflammatoriese middels, slaappille, antibiotika en baie ander middels is voorbeelde. Die heel ergste medisyne is die chemoterapie wat kankerpasiënte ontvang en ook die bestraling.
4. Alle gewone tandepasta bevat 'n skuimagent, genaamd natriumlourielsulfaat, Sodium Lauryl Sulphate (SLS) wat in die klein speekselklierbuisies ophoop en 'n laegraadse infeksie veroorsaak.
DIE VERLOOP VAN TANDVLEISSIEKTE
Normale tandvleis word aangetoon in Figuur 8. Daar is geen rooiheid, swelling of bloeding teenwoordig nie en die sulcus met met die periodontale sonde gemeet tussen 1 en 3 millimeter. Let daarop dat die tandbeen intakt is.
Figuur 8: Die beeld van gesonde tandvleis
Tandvleissiekte vertoon drie verskillende beelde of vorme. Een, twee of drie vorme kan in dieselfde mond voorkom. Die drie beelde is:
1. Akute ontsteking (Gingivitis).
2. Chroniese ontsteking (Periodontitis).
3. Resessie (Die tandvleis trek terug en ontbloot die wortel).
1. AKUTE ONTSTEKING (GINGIVITIS)
Dit word veroorsaak deur plaak, soos reeds genoem. Die teenwoordigheid van plaak in die sulcus veroorsaak rooiheid, swelling en pyn van die sulcus, soos aangedui in Figuur 9.
Figuur 9: Akute ontsteking van tandvleis - gingivitis.
Die tandvleis bloei maklik bv. as ’n mens tande borsel, vlos of harde kos eet. Indien dit onbehandel gelaat word gaan dit oor in chroniese periodontitis.
2. CHRONIESE ONTSTEKING (PERIODONTITIS)
’n Chroniese periodontitis volg op ’n akute gingivitis en dit gebeur sonder dat die pasiënt eers daarvan bewus is. Met ander woorde die rooiheid, swelling en bloeding verdwyn tot ’n mate maar nie die siekte nie! Dit is ’n proses wat jare duur. Wat gebeur is dat die plaak versteen en kalkulus vorm. Die sure en afbraakprodukte van die bakterieë dring die tandvleis dieper in en val nou die been en die ligament aan. Snaaks genoeg bly die tandvleis self op min of meer dieselfde hoogte. Die aanhegting verskuif wel al dieper en dieper soos wat die been afgebreek word. Die korrekte normale verhouding tussen die tandvleis, die sulcusdiepte en die been word versteur. Die sulcus raak so diep (ons praat nou van ’n sakkie) dat dit onmoontlik is om die plaak daaruit te verwyder. Uiteindelik raak die tande los en verloor die pasiënt sy tande.
Die siekteproses word aangedui in Figuur 10, 11 en 12.
Figuur 10: Hierdie is die eerste fase van chroniese ontsteking van die tandvleis - omkeerbare volwasse periodontitis. Hierdie toestand vereis eenvoudige behandeling.
Figuur 11: Matige ontsteking van die tandvleis - volwasse periodontitis. Hierdie toestand benodig meer gevorderde behandeling en gereelde opvolgondersoeke.
Figuur 12: Gevorderde ontsteking van die tandvleis - volwasse periodontitis. Die behandeling behels dikwels sjirurgie en is nie altyd voorspelbaar nie.
3. RESESSIE VAN DIE TANDVLEIS
Figuur 13:
In hierdie geval bly die tandvleis nie op dieselfde hoogte nie. Al die weefsels, d.w.s. die tandvleis, die been en die ligament trek saam weg van die tand en ontbloot so die wortel. Dit word veral veroorsaak deur verkeerde tandeborsel metodes en deur oormatige koukragte. Die probleem raak ernstig wanneer daar minder as 2 mm aangehegte (gekeratiniseerde) tandvleis oor is. Onthou dit is hierdie tandvleis wat sterk is en beskerming bied. Sodra daar slegs van die rooi tandvleis (vry, ongekeratiniseer) oor is, kan die resessie baie vinnig versprei en verloor die pasiënt sy tande. Geringe resessie is nie ’n groot probleem nie, solank dit nie erger word nie.
BEHANDELING VAN TANDVLEISSIEKTE
Die behandeling van tandvleissiekte berus op die diagnose. Met ander woorde dit hang af van watter een van die vier tipes (akuut, chronies, resessie) teenwoordig is.
1. BEHANDELING VAN AKUTE TANDVLEISONTSTEKING (GINGIVITIS)
Die behandeling bestaan uit die verwydering van die oorsaak of oorsake van die siekte. Soos ons gesien het is daar ten minste elf oorsake. Ons kan nie al hierdie faktore maklik elimineer nie. Dit is byvoorbeeld onmoontlik om ’n pasiënt se gene te verander en baie siektes soos diabetes is baie moeilik om te behandel. Strestoestande is ook iets wat buite ’n tandarts se normale werksbeskrywing val. Dit is ook baie moeilik om die rookgewoonte af te leer.
Die belangrikste oorsaak van tandvleissiekte is steeds plaak. Gelukkig is dit iets waaroor ons volkome beheer het:
Die pasiënt besoek eerstens die tandarts en hy of die mondhigiëniste maak die tande geheel en al skoon. Hulle verwyder alle plaak. Nou leer hulle die pasiënt hoe om te voorkom dat daar weer plaak vorm, d.w.s. hulle leer die pasiënt hoe om sy tande te borsel en te vlos. Dit is meestal al wat nodig is om die siekte te genees. Heel eenvoudig.
Nou, hoe borsel ’n mens tande? En hoe vlos ’n mens?
Die hele borsel- en vlos tegniek berus daarop dat ons die sulcus wil skoonmaak. Dit is die heel belangrikste. HOU DIE SULCUS SKOON!
Figuur 14:
Die tandeborsel se hare word met ’n hoek van 45 grade teen die tand se oppervlakte gehou en in die sulcus ingedruk - versigtig. Met versigtige sirkel-bewegings word die plaak dan losgewikkel en uit die sulcus uitgevee. Die tandarts of mondhigiëniste kan dit vir u demonstreer. Onthou: Daar is ’n sulcus reg rondom die tand, nié net aan die buitekant en binnekant nie. Met ander woorde daar is ’n sulcus tussen die tande ook. Dit moet ook skoongemaak word - met vlos!
Figuur 15:
Figuur 16:
Figuur 17:
Figuur 18:
Figuur 19:
Figuur 20:
Tandevlos word met ’n versigtige saagbeweging tussen die tande ingesaag. Moet nie die vlos afdruk nie. U gaan uself net beseer! Die maklikste is om te KYK wat u doen - in ’n spieël. Die verskillende oppervlaktes word dan skoongevee of gevryf met die vlos. Met ander woorde vlos twéé keer tussen al die tande, die een keer om die een tand se sulcus skoon te vee en die ander keer on die ander tand se sulcus skoon te vee.
In die eerste paar dae is dit moeilik en die tandvleis bloei baie en is baie seer. Maar hou asseblief aan! Binne een week gaan dit beter. Die tandarts kan mondspoelmiddels en antibiotika voorskryf om die ergste pyn en bloeding te beheer, maar dit genees nié die siekte nié, net die simptome. Verwyder elke dag alle plaak!
In pasiënte wat baie vatbaar is vir tandvleissiekte is dit nodig om SLS uit te skakel. Die pasiënt moet slegs ’n tandepasta wat nié SLS bevat nie gebruik.
Enige onnodige medikasie moet uitgeskakel word. Pasiënte moet ’n goeie dieet volg, nie rook nie en alkohol nie oormatig gebruik nie.
2. BEHANDELING VAN CHRONIESE TANDVLEISONTSTEKING (PERIODONTITIS)
Alle pasiënte met chroniese tandvleissiekte moet eers behandel word soos vir akute tandvleissiekte. Hulle tande moet deeglik skoongemaak word; hulle moet instruksies vir tuissorg ontvang en hulle vordering daarmee moet gekontroleer word. Dikwels verbeter die toestand sodanig dat geen verdere behandeling nodig is nie.
Figuur 21: Perio 20 Akute ontsteking van die tandvleis (bo) en een week nadat die tande mooi skoongemaak is (onder).
Wanneer die beheer van plaak op ’n aanvaarbare vlak is en daar is steeds tekens van chroniese tandvleissiekte moet die volgende fase van behandeling begin. Hierdie behandeling is ingrypend van aard. DIt word meestal deur ’n spesialis, ’n tandarts wat vier of vyf jaar se ekstra nagraadse studie gedoen het, uitgevoer. So ’n spesialis word ’n periodontis genoem. Die behandeling van chroniese tandvleisontsteking behels
1) Die verwydering van kalkulus diep onder die tandvleis - ons praat van so 5, 6, 7, 8 mm onder die tandvleis. Dit vereis noodwendig die gebruik van verdowing. Soms is dit nodig om die tandvleis oop te sny om daar uit te kom.
2) Die gelykmaking (kontoering) van die siek been en verwydering van dooie been.
3) Wegsny van siek tandvleis.
4) Die hegting van die tandvleis aan die been.
5) Deesdae kan die periodontis selfs nuwe kunsmatige been inplant in sekere areas.
In alle gevalle is die hele doel van die behandeling daarop gemik om ’n nuwe gesonde sulcus te skep, ’n sulcus wat maklik deur die pasiënt skoongehou kan word.
Figuur 22:
Figuur 23:
Somtyds beteken dit dat die tande langer gaan lyk na die genesingsproses. Gewoonlik is dit nie ’n groot probleem nie en kan dit deur die tandarts behandel word.
Daar is ook ander redes waarom hierdie operasie soms uitgevoer moet word. Soms is die tandfraktuur of tandverrotting so diep onder die tandvleis dat die tandarts nie ’n ordentlike herstelling op die tand kan plaas nie. Dan word die tandvleis doelbewus weggesny, die been gekontoer en die tandverrotting of tandfraktuur word dan blootgelê op ’n plek waar die tandarts dit wel kan herstel.
Figuur 24:
Of somtyds is ’n tand só erg vernietig dat daar nie genoeg van die tand oor is om ’n stopsel of kroon aan te heg nie. Dan word die tandvleis doelbewus weggesny om ’n redelike stukkie tandwortel beskikbaar te stel vir die tandarts om mee te werk. So ’n prosedure staan bekend as ’n kroonverlengingsprosedure.
Figuur 25:
Hierdie gespesialiseerde prosedures mag post-operatiewe pyn veroorsaak. Dit hang af van hoe uitgebreid die siekte is en van die pasiënt se individuele ervaring van pyn. Dit is dikwels die moeite werd om vir ’n paar dae vooraf anti-inflammatoriese middels te gebruik. Dit skakel post operatiewe pyn feitlik uit. Die behandeling self kan onder algemene narkose in ’n hospitaal of kliniek gedoen word of onder lokale verdowing - soos vir ’n gewone stopsel. Dit is hoofsaaklik die pasiënt se keuse, maar hang ook af van die omvang van die siekte. Hoe erger die siekte, hoe langer en groter operasie en hoe meer moet ’n mens algemene narkose oorweeg.
3. DIE BEHANDELING VAN RESESSIE
Soos met enige siekte is dit die heel belangrikste om die oorsaak te elimineer. Soos reeds genoem is die oorsake van resessie:
1. Plaak.
2. Oormatige kragte, bv. kners.
3. Verkeerde borseltegniek of te harde tandeborsel.
Met ander woorde die eerste stap in die behandeling van resessie is weer eens die verwydering van plaak. Tweedens moet die tandarts kyk na die verspreiding van die koukragte met ander woorde die byt moet reg wees.
Maar somtyds is dit weer eens nodig dat die periodontis aktief moet optree om die resessie stop te sit. Dit raak nodig wanneer daar minder as 2 mm aangehegte gekeratiniseerde tandvleis oor is. Gelukkig is daar ’n metode waarmee hy nuwe aangehegte gingiva kan skep. Dit doen hy deur van hierdie gekeratiniseerde weefsel uit die verhemelte te neem en oor te plant in die betrokke area. Dit is ’n klein prosedure wat in minder as ’n halfuur afgehandel word. Daar kan weer eens pyn na die tyd voorkom.
Laastens,
Gesonde tandvleis is en bly afhanklik van:
1. Plaakkontrole. Borsel en vlos elke dag.
2. Goeie herstellings op die tande. Besoek die tandarts gereeld.
3. ’n Gesonde liggaam en ’n gesonde gees. Volg ’n goeie dieet, vermy medikasie, rook en SLS.